‘n Warm Wolmus

Kyk, my ma is nou nie wat ek die naaldwerk en kleremaak tipe sal noem nie. Gee haar eerder ‘n verfkwas en sy sal vir jou wys hoe dit gedoen moet word, of laat haar in die tuin los. Sy kon uit ‘n barre stuk aarde ‘n lushof skep.

Ek was seker so nege of tien jaar oud toe byt die gogga haar, die musgogga. Sy het êrens ‘n breipatroon vir wolmusse gekry en dit waarlik reggekry om dit suksesvol te brei, tot ons verbasing. Dit was tot ons verbasing want die truie wat sy vir ons gebrei het was nie skeppings wat mens in die openbaar sou dra nie. Ek sal byvoorbeeld nooit my noupassende swart nommer vergeet wat tot op my knieë gekom het nie, meer van ‘n soort lyfkous as ‘n trui. My pa moes maar sy vaalpers nommertjie noodgedwonge dra, dit het hy baie diskreet net op die plaas gedoen. Maar haar musse, dit was ‘n ander storie.

Ons kon self die kleure kies, nie dat sy haar veel daaraan gesteur het nie. As jy ‘n bloue gekies het was daar wel ‘n titsel blou in, maar sy kon net eenvoudig nie haar self help nie en moes ‘n helder strepie of twee êrens inwerk. Dan was daar die groot tossels bo-op, hoe groter hoe beter en verkieslik ‘n kleur wat met die mus konstrasteer. Soms sommer twee tossels op een mus. Ek kan nog goed onthou hoe ons almal moes leer om die tossels te maak met twee stukkies karton met ‘n gaatjie in die middel. So eindig ons hele gesin pa, ma en vyf seuns toe elkeen met ‘n helder wolmus, of ons een wou hê was nie regtig ter sprake nie. Party van ons het selfs twee gehad. My niggie sê juis, wanneer sy aan ons terugdink en aan hulle kuiers op die plaas, dan is dit die vyf seuntjies met die bont wolmusse wat vir haar uitstaan. Dit het so half-en-half  ons “trade mark” geword.

Die musse het toe met die tyd hulself as baie warm en prakties bewys. Op wintersaande as ons op die plaas agterop die bakkie met die soeklig gery en wild kyk het kon jy hom styf en laag oor jou ore trek om die geniepsige windjie uit te hou. Ma moes die bakkie bestuur en skielik stop as iemand twee blink oë in die skerp lig gewaar. So kom dit toe dat een van my broers met díe skielikke gestoppery  soos ‘n pyl uit ‘n boog bo-oor die bakkie se kajuit trek en met ‘n harde plof die grond tref. Ek is seker sy mus het hom van defnitiewe skedelbreek bewaar.

Menige Saterdagmiddag het die hele familie, met ons musse op natuurlik, langs die rugbyveld gesit en koudkry as pa fluitjieblaas vir wedstryde tussen die distrik se spanne. Hier het die musse ook handig te pas gekom. Jy kon hom oor jou ore trek as jy nie die ander mense op die paviljoen se kritiek oor die “ref” wou hoor nie.

Gedurende seevakansies het die musse ook tot hul reg gekom. Die hele familie kon op ‘n koue aand buite om die braaivleisvuur kuier met ons musse wat gesellig en bont die koue afweer. Ek kan nie my pa vroegoggend of laatmiddag by die viswaters voorstel sonder sy blou en rooi mus nie. Wanneer ons vir hom gaan hallo sê het kon ons hom van vêr af  tussen al die ander vissermanne op die strand uitken aan sy mus. Hy het tot net voor sy dood toe nog in die winter met sy mus vleisgebraai.

Tussen vyf seuns kan daar soms lelike gevegte uitbreek en ons was nie bang om klappe en vuishoue onder mekaar uit te deel nie. Gelukkig het die musse die inpak goed gestuit en het my mus my ‘n paar keer gered van ‘n rooi oor of selfs breinskade van ‘n klap teen die agterkop. Ons musse het elkeen hul eie identiteit gehad en ons sou dit nooit ooit oorweeg om mekaar se musse te vat of eers skelm te leen nie. Sou een van ons se musse wel wegraak was daar altyd ‘n spaar wat my ma soos ‘n haas uit ‘n hoed navore kon bring. Ek wonder hoeveel van die goed het sy gebrei?

Toe ek later jare in Ermelo Hoërskool was het my mus werklik tot sy reg gekom. Die winters daar word ongelooflik koud. Sonder my warm groen mus (met die strepe) sou  ek dit nooit kon oorleef nie. Ek het hom pal opgehad. Soms, net soms, het ons soos alle koshuiskinders maar die een of ander tyd doen, die kilometer of wat dorp toe “geslip” om koeldrank of “russians en chips” te gaan koop, my mus het my onaantasbaar laat voel soos ‘n boef se balaklava. Saans as ek studeer was my mus my bemoediging en snags het hy my gekoester in sy bont wol sodat ek warm kon slaap.

Toe kom ek op die ouderdom waar die mus nie meer “cool” genoeg gelyk het nie en hy tree toe noodgedwonge af. Ek mis nou my mus. Ek mis die gevoel van liefde en geborgenheid wat ek gekry het as ek hom gedra het.

Dankie ma vir my groen-bont mus met die rooi tossel.

Vandag is my Ma oorlede en soms wonder ek of sy ook die liefde en warmte ervaar het net soos haar musse, met liefde gebrei, haar gesin gekoester het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *