‘n Perd van ‘n ander kleur

Slaap is regtig ‘n wondersoete ding, vra maar vir die wat nie in hierdie nektar van rus kan deel nie.

Dit is galbitter.

Dit is ‘n week wat ek nou al nie slaap nie. Doodmoeg skuifel ek die trappe op na my kamer en los my klere op ‘n streep agter my aan tot by die stort. Ek staan net in die stort, te moeg om seep te smeer. Te moeg om te dink. Vannag is die nag, ek weet dit net. Vannag gaan ek slaap soos ‘n klein hondjie….

Tienuur word my kop wakker, ja net my kop, want my liggaam is te moeg. My brein is egter op ‘n missie van sy eie. Soos ‘n wilde perd gallop hy van gedagte tot gedagte met my liggaam ‘n onwillige ruiter, sonder om lank genoeg by een gedagte stil te staan om dit te laat sin maak. Gedagtes wissel van mense by die werk wat ek wil doodmaak tot begrafnisse van vriende en familie wat nog lewe. En dit maak jou mal. Mal, maller, malste. 

Daar is nie ‘n ontspanningstegniek wat ek nie probeer het nie. Hulle sê byvoorbeeld jy moet by jou tone begin en elke spiertjie saam trek en dan ontspan en dan so stelselmatig op werk tot by jou gesig, tot al die spiere in jou liggaam so ontspanne is dat jy met jou slap spiere weggevoer word in ‘n diep slaap. Nee wat, by die tyd wat ek by my eerste kuitspier kom is ek lankal verveeld en is my kop soos ‘n volbloed arabierperd volspoed in ander lande besig om my volgende oorsese reis te beplan en sommer ook my begroting uit te werk.

As nog iemand vir my sê om net af te skakel gaan ek my liggies vervies. Ek sukkel nou al jare om die konsep van afskakel te verstaan en niemand kan of wil my vertel hoe om dit te doen nie. Glo my, as ek daai skakelaar kry sal ek hom totaal misbruik. Watter mens met meer as een breinsel kan aan niks dink nie. Hoe doen jy dit; dink jy net aan n swart gat? My kop gallop in elk geval lankal na groener weivelde.

Dominee het te vertelle ek moet die tye wat ek so wakker lê produktief gebruik en bid. Liewe dominee, ek het al van Zimbabwe tot Ysland gebid. Vir die olie besmeerde pikkewyne en die swart renoster en vir jóú ook, maar dit laat my nog lank nie slaap nie. In teendeel, dit laat my verbete al hoe vinniger en vinniger bid want ek is bang ek slaan iemand belangriks oor voor ek aan die slaap raak. Jy sien, dis die geweldige besige kop van my; gallop, gallop, gallop.

My skoonma glo melk met bietjie gemaalde neut sal die ding doen, laat jou glo heerlik ontspan my kind. Mag wees, behalwe dat dit my laat wakker lê met een verskriklikke sooibrand en my besige koppie maak my dan wys dis ‘n moontlike hartaanval wat my dan weer laat wonder of ek myself  moet laat veras of  begrawe. En ek haat in elk geval melk. Wonder hoe smaak gemaalde neut in ‘n dop whiskey…. Miskien sit die saal vir hierdie moeë lyf gemakliker as hy half dronk is op ‘n mal perd.

Doen meer oefening is die raad van nog iemand wat elke aand soos ‘n os slaap. Hoe, meneer, moet iemand wat ‘n week laas geslaap het ses keer om die blok hardloop as ek nie eers genoeg energie het om my tekkies aan te trek nie. Ek sien al hoe lê ek wakker met stywe spiere en blase op my voete. Soos ek myself ken sal die oefening eerder hierdie brein van my nog meer stimuleer om op ‘n gallop nuwe paaie in die middernagtelike ure te verken en miskien sommer ‘n draai by die rodeo ook gooi.

Ek dink dis net slim mense wat wakker lê – ‘n dom ou se kop kan tog nie soos ‘n wilde perd vir weke nag vir nag hardloop nie. As ek net hierdie wilde perd van my op iets makkers kon inruil, soos miskien ‘n nagmerrie, selfs bang slaap is tog beter as geen slaap. Miskien, net miskien, saal ek vannag die regte perd op wat rustig met my stap na waters waar daar rus is, sonder om langs die pad te stop om skape te tel.. 

Image by Miguel Muñoz Hierro from Pixabay

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *