Lida se brood

Op 2 September 2014 het my pa sy laaste asem uitgeblaas. 

Dit was een dag korter as dertien maande vandat hy met kanker gediagnoseer is. 

Hy was 58.

16 Junie 2019 was die 5de Vadersdag sonder hom.

Enkele dae tevore was die 5de keer wat ons sy verjaarsdag sonder hom gevier het en ‘n maand vroeër was my 5de verjaarsdag sonder hom.

Hulle sê alhoewel mens gewoond raak aan die verlies sal die verlange bly, maar met tyd voel sy afwesigheid vir my erger.

Soos my kinders (nou amper 3 vir Ousus en amper 7 maande vir kleinsus) ouer word, word dit al hoe duideliker dat hy nie meer hier is nie. Ousus en haar amper 3-jarige nefie aan my broer se kant, het al begin vra waar is Ouma se Oupa? Want aan die anderkant van die familie, het elke Ouma ‘n Oupa aan haar sy.

Dis moeilik om op amper drie vir jou kinders iets te verduidelik wat nog nie nes gemaak het in jou hart nie.

My ma bereik onlangs ‘n uitsonderlike prestasie in haar loopbaan en ons as familie gaan vier dit saam. Pa se afwesigheid, alhoewel ons dit verwag en moet gewoond wees daaraan, is steeds tasbaar en ongewoon.

“Sien hy die mylpaal? Weet hy dat ek dit gedoen het, soos hy gevra het ek moet?”, vra my ma. 

Hoe antwoord ek dit as ek elke aand vir God vra om tog vir Oupa te vertel oor die kleinkinders.

Sien hy hulle? Weet hy van hulle?

Verlede jaar versoek van Ma se vriendinne foto’s van Pa, vir ‘n projek vir haar verjaarsdag.  Ek en Boeta grou deur fone en rekenaars, ruk ou hardeskywe uit en reset lank vergete wagwoorde.  Ons kry nie vreeslik baie foto’s van Pa nie.  Maar ek het ‘n magdom foto’s van dinge waarvoor hy lief was, die plaas, Welverdiend, waar sy groot rus was, se sonsondergange en velde.  Die honde, een vir een oorgeneem by die kinders, ou familie foto’s van Oupa en Oom Johan en Kersfees met ‘n trifle en`n skaapboud.  Voëltjies en spinnekoppe en nessies van ongediertes wat ek nie kan noem nie.  Foto’s van ons gradeplegtighede.  Miljoene foto’s van mense en dinge wat ek seker is hy lief sou hê, die kinders met geboorte, Jaco wat sy naam dra, seevakansies in Ballito, Ma in haar PhD-toga.

Want hy sou wou weet. En hy sou dit wou sien.

My pa se dood het my geleer dat die dinge wat belangrik is van korte duur is. Ek rush in die aande om alles gedoen te kry, sodat ek sonder sorg saam ousus in die bed kan lê tot sy slaap. Sy is amper drie, môre is sy dertien en dan mag ek nie meer langs haar aan die slaap raak nie. Mens weet nooit wanneer is die laaste keer nie. Ek probeer elke keer indrink en vas lê, as dit dan die laaste keer moet wees, wil ek dit in volkleur-HD onthou. Ek raak paniekerig die aande wat dit nie gebeur nie, want sal ek regtig gisteraand se keer kan onthou?

Bygaande foto onder is nie so outentiek soos wat dit lyk nie. As jy my pa geken het, sou jy aan sy gesig kon sien die oploop na die foto was frustrerend. Maar ek onthou die dag, ek wou met alle geweld die foto neem, om een of ander rede was dit belangrik. Dit was net na sy eerste reeks chemo. Vandag is dit een van my kosbaarste besittings. Ek stoor dit op elke fisiese en denkbeeldige digitale plek.

Stampmielies, suikerbone en een of ander vleisigheid in ‘n bredie dryf ons tot trane want niemand kan dit maak soos Pa kon nie. Dis 5 jaar sedert ek my mond aan Spinasietert gesit het. My vrieskas het twee blokke van pa se tamatiesous in plastieksakkies, ouer as my kinders, my huis en my yskas. Ek klou verbete vas aan sous, smake en die reuk van mieliepap. Hy was só lief vir mieliepap.

Ek bel sy foon elke nou en dan. Hoopvol en vreesbevange dat sy voicemail dalk mag antwoord. Ek is elke keer dankbaar teleurgesteld as dit nie doen nie. Ek dink om sy stem nou te moet hoor sal my knieë knak.

My pa was nie lief vir onderhoudswerk nie maar hy kon plugs omruil, draadkarre bou en fyn houtwerk doen.

Hy was nie ‘n briljante boer nie, maar hy was versot op die beroep, verslaaf aan die natuur en onafskeidbaar van die Grond. Ons grond. Sy Boerbokke het sy stem geken, elkeen het ‘n naam gehad en hy het menigmal nie die hart gehad om hulle op ‘n veiling te groet nie. Hy het dit gehaat om sy eie diere te slag.

Hy kon ‘n groentetuin op enige plek laat blom, maar fyntuin was nie sy forte of passie nie.

Hy was eksentriek en uitgesproke, het maklik ongenooide raad gegee en partykeer mense se lewens verander.

Hy was frustrerend suinig met nice-to-have’s en ruimhandig vrygewig met must-have’s.

Hy het verskriklik baie plek gehad vir mense in sy hart, tot die wat hom bedonner het, het hy liefgehad. Ek kan aan net twee mense dink van wie hy werklik nie gehou het nie. Die twee was toevallig familie van mekaar.

Hy was nie onfeilbaar nie. Maar hy was betroubaar en opreg. Hy was polities sy mense jare vooruit.

Hy het geworstel met die Here. Vir baie lank. Maar hulle het ten einde vrede gemaak en mekaar met ope arms ontvang. Ek beny hom daardie laaste dae se geselskap met ons God.

My pa was lief vir lekker eet. In ons huis het dit bekend gestaan as Lida se Brood, ons sou veel later uitvind dis eintlik ‘n volks-bekende resep. Maar hy het met die konkoksie by die huis gekom, Lida Stander, op daai stadium ‘n kollega, het die resep met hom gedeel en tot vandag is dit hoe ons dit noem: Lida se Brood.

Een koppie room, een koppie bruinsuiker en een pak winkeldeeg. Rol die deeg in beskuitbolle, klits die room en suiker saam, gooi oor die beskuitbolle en bak tot gaar. En altyd met daai eerste happie: “So vervreet ons onself weer vandag aan die lekkernye.”

Op 2 September 2014 het my pa sy laaste asem uitgeblaas.

Dit was een dag korter as dertien maande vandat hy met kanker gediagnoseer is.

Hy was 58.

Ek sal hom vir ewig mis.

Comments
  1. Avatar1 year ago
  2. Avatar1 year ago
  3. Avatar1 year ago

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *