Is dit hoe die hemel lyk?

 

Die pad lyk bekend, soos ek ry sien ek bekende bakens uit my kindertyd in die Laeveld. Tussen Hazyview en Sabie kies my motor self  ‘n afdraaipaadjie wat links tussen die piesangplantasies op kronkel. Ek besef ek is op die plaaspad van ‘n tannie wat ek geken het uit my kindertyd, tannie Louis, sy was ‘n goeie vriendin van my Ma.

Sy is jare terug al oorlede aan kanker. Wat maak ek hier?

Die huis lyk nog steeds dieselfde, mis hang oor die welige tuin en af in die vallei. Ek klim uit die motor en kyk om my rond. My motor is die enigste een hier. By die voordeur staan ‘n ry mense, ek kan nie hul gesigte sien nie. Die atmosfeer tussen hulle is rustig, stil, vredig.

Wat maak ek hier?

Ek voel uit my plek, maar val in die ry saam met die gesiglose mense, en wag. Die voordeur gaan oop, dit kan nie wees nie, sy is dan dood? Tannie Louis, blakend gesond en in ‘n spierwit gewaad, begin sy die mense een vir een verwelkom. Die rustigheid en vrede van die mense saam met my val my weer op. Soos die mense by haar verbyloop deel sy aan elkeen ‘n wit kleed uit, soort gelyk aan haar eie. En dan is dit my beurt. “Jy kry nie ‘n kleed nie”, fluister sy vir my, “jy is net ‘n gas”.

Ek stap onseker by haar verby in die gang af en uit op haar voorstoep. Wat ek volgende sien is onbeskryflik. Dit is asof ek alles vir die eerste keer sien; deur ander oë. Bekende bome en blomme lyk net helderder, mooier. Vir die eerste keer sien ek regtig. Alles is soos ek dit ken, maar meer intens, asof ek deel is van dit en nie net daarna kyk nie. Die helder geluid van voëls is om my en soos ek deur die tuin stap bly ek in verwondering kyk; en kyk.

Skielik hoor ek kinderstemmetjies en ek stap in die rigting van waar dit vandaan kom. Oor helder stroompies en lowergroen gras volg ek die uitbundige gelag en gesels. En dan sien ek hulle. In hul wit klede sit almal in ‘n kringetjie. Hulle lyk so gelukkig. In die middel, tussen hulle sit ‘n bekende figuur met haar rug na my. Sy was altyd so lief vir kinders. Hulle roep haar naam. Dis my Ma! Tussen die kindertjies, rustig, gelukkig. Vrede.

Is dit hoe die hemel lyk?

Ek skrik wakker met trane wat oor my gesig stroom. Trane van verligting en vrede. Met verwondering lê ek in die oggendskemer na die plafon en staar. Na my Ma se selfdood het ek gebid dat sy net in vrede moet rus, maar die vrede het my ontwyk. “Hoekom huil jy?”, vra Hein toe hy langs my wakker word. “Ek dink ek het my Ma in die hemel gesien,” antwoord ek, en vertel vir hom my droom.

“Sjoe, dink jy dis hoe die hemel lyk?” vra hy veel later oor ‘n koppie koffie terwyl ons na die plante en voëls in ons eie tuin kyk. Ek weet regtig nie, dink ek.

Maar ek weet my Ma is daar.

Comments
  1. Avatar2 years ago

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *